Briewe van Ouers

Ek het vanoggend my twee kinders by die skool afgelaai en saam met hulle klas toe gestap. Toe ons om die draai kom, sien hulle vir Juf Marina op die stoep staan. Hulle het spontaan en vol spoed na haar toe gehardloop en hulle arms om haar gegooi. Dit was vir my so kosbaar om te aanskou. Toe besef ek net weer watter voorreg dit is dat ons kinders in CCL is.

Ek wil net vir Juf Phia en die span onderwysers sê: Baie dankie vir al die liefde waarmee julle ons kinders elke dag opvoed. Julle is 'n wonderlike span en ons waardeer julle. Ek dink nie ons as ouers sê genoeg dankie vir alles wat julle vir ons kinders doen nie. BAIE DANKIE.

(E-pos ontvang op 9 Oktober 2017)

Goeiemore,

Dit is met groot hartseer wat ek julle in kennis moet stel dat Herman en Evan Victor net tot die einde van die maand DV 31 Oktober 2017 by die skool sal wees.

Ons visas vir Nieu-Seeland is goedgekeur en ons kan dus al vroeg in November die groot stap na 'n nuwe lewe en nuwe begin, neem.

Dit was vir ons as gesin 'n ongelooflike voorreg om ons kinders die afgelope 5 jaar by CCL te kon hê. Wat 'n wonderlike ervaring was dit nie om die 2 seuns te sien groot en slimmer word en al nader aan God te sien beweeg onder die leiding van die Christelike skool.

Elke dag word die Spreuke gelees in die kar oppad skool toe, sake soos wat God dink van boelies, vriende maak, terg ens. word gedurig tussen die twee boeties bespreek. Ek sê elke dag dankie vir die wonderlike skool waarin die twee seuns kon ontwikkel het tot selfhandhawing, onafhanklike, Godvresende kinders wat die mooi in die wêreld raaksien, wat sien waar daar foute is en daarvoor kan bid.

Ons gaan nou ons lewenspad verskuif na 'n nuwe land waar godsdiens dalk nie so groot aangeskrewe is nie, waar daar nie elke dag van God se wonderwerke vertel word nie, maar ons glo opreg dat dit is waar God ons as gesin wil hê.

Baie sterkte vir die skool vorentoe. Ons sal altyd met trots praat van ons skool en wat dit vir die kinders beteken het.

Weereens baie dankie vir 'n uitstekende skool wat standvastig is in geloof, hoop en liefde.

Baie groete en liefde,

Herman en Tulise Victor

Brought to you by The Le Roux Group