top of page
AKADEMIE

By Centurion Christelike Laerskool leef ons ons Christenskap onbeskaamd uit. Openinge word daagliks gehou en gewyde sang beklee ‘n prominente plek in die rooster. Bybel en Kerkgeskiedenis maak deel uit van ons kurrikulum. Die leerders leer elke week ‘n Bybelvers en gewyde lied. Ons skool se onderwysers gee individuele aandag aan elke leerder.

 

Aan die einde van elke kwartaal vind daar ‘n Bybeldag met ‘n tema plaas waaraan almal deelneem. Instappies en uitstappies word gereeld by die skool gereël en ons woon ook graag kampe soos Veldskool by. Gereelde verrykingsdae sorg vir ekstra pret waar leerders speel-speel leer. Centurion Christelike Laerskool onderrig nie net die formele kurrikulum nie, maar glo dat leerders lewenslesse by die skool moet leer, en ook om hulle eie identiteit te ontwikkel. Centurion Christelike Laerskool is ‘n omgee-skool waar ouers betrokke is. Daar word geleenthede geskep vir interaksie tussen onderwysers, leerders en personeel en lief en leed word gedeel.  Elke kind word op die naam geken en is nie net nog ‘n nommer nie. 

KURRIKULUM

Onderrig by Centurion Christelike Laerskool is gebaseer op die ICO (Instituut vir Christelike Onderwys)-leerplanne en voldoen aan die Nasionale kurrikulum (CAPS). Leerstof word deeglik gekeur en waar nodig, aangepas om aan Bybelse waardes en hoë akademiese standaarde te voldoen. Vakinhoud is in pas met die aard en behoeftes van die leerders en die altyd veranderende lewe. Eerstehandse ervaring en ontdekking word aangemoedig. Kritiese uitkomste soos kreatiewe denke, probleemoplossing, samewerking, kritiese evaluering en selfbestuur word deurlopend ontwikkel.

​

Kennis begin by kennis van die Here. In hierdie lig word geleer dat Hy die tale, wiskunde en al die ander vakke wat by Centurion Christelike Laerskool onderrig word, gemaak het om van te leer - tot sy eer!

GRAAD R TOT 7

Ons Graad R juffrou berei die volgende jaar se Graad 1’s voor deur konkrete leer en nie geskrewe werk nie. Speel is vir ons klein maatjies nog sò belangrik!

​

Die Graad 7’s se jaar is ‘n belangrike vormingsjaar vir dit wat die volgende jaar voorlê. Hulle ontvang leierskapsopleiding, leer om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle dade en het baie groei geleenthede om hulself te ontdek.

BYBELDAG

Elke kwartaal geniet die leerders 'n Bybeldag wat verryking deur middel van die Bybel op verskillende maniere bied. Mag die Bybel op so 'n prettige manier die liefde van Jesus in ons kinders wakker maak en vul. Hierdié spesiale dae is ‘n hoogtepunt vir al ons leerders om met dankbaarheid aan ons Here hulle kwartaal af te sluit.

EKO-SKOOL

Centurion Christelike Laerskool is ‘n Eko-skool wat leerders bewus maak en leer aangaande die omgewing en aarde waaroor die mens aangestel is om oor te heers.

Gemeenskapsdiens: Centurion Christelike Laerskool neem gereeld deel aan Loslitdag, Pantoffeldag en ander geleenthede waardeur die gemeenskap gedien kan word. Ons neem ook graag deel aan Boomplantdag en het al ‘n hele paar nuwe boompies op die skool se terrein geplant.

LEKKER-LAWWE DAE!

By Centurion Christelike Laerskool soek ons altyd ’n verskoning om iets te vier of om iets lekkers te doen! Voorbeelde sluit in: Vrolike Vrydae, Entrepreneursdag, Boekkarakter-dag, Lentedag en Drukkiedag, net om ‘n paar te noem.

OMGEE HOEKIE

Centurion Christelike Laerskool het ook ‘n "Omgee hoekie". Hier gee ons erkenning aan ons ligdraers, ons maats en die personeel. Hier leer ons om vir mekaar om te gee soos wat ons die plantjies versorg. Ons gebruik die posbussie om briewe van liefde en ondersteuning te stuur. Ons kan ook briewe skryf as ons hulp of ondersteuning nodig het. So leer ons om ons emosies te deel en te verstaan.

​

“Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”

- Filippense 2 : 1 – 4

IMG_8387.jpg
bottom of page